Ons eerste draai is by die befaamde wilde perde van Aus. So jammer dat die perde so gewoond geraak het aan mense dat hulle skaars as wild beskou kan word.


Kolmanskop is tweede op ons lys van besoekpunte.
Om eerlik te wees was nie een van ons twee besonder beïndruk met die spookdorp nie. En lyk my om besienswaardighede te sien in Namibië kos elke keer of 150 0f 250 Namibiese dollar.
Tog het Kolmanskop sy eie bekoring. Bloot net om te wonder hoe die leefstyl was, ’n eensame groep mense op ’n verlate vlakte, maar geld en diamante het gepraat!
Baie interessant was die uitstallings en veral die uitstallings wat gegaan het oor diamant smokkel, veral in die 80’s en 90’s. Tot 324 karaat op een slag probeer smokkel!




Lüderitz was bietjie van ’n skok! Dis Sondag en hier rol hulle die teerstrate reeds Saterdagaand vroeg op. Net OK en Spar oop tot 13h00!
Ons maak ’n draai by Shark Point. Gerieflik, netjiese kampplekke maar ek dink dit kan vrek koud daar word as die seelug begin waai.
Die monument opgerig ter herdenking aan die plaaslike bevolking wat onder die Duitse besetting in die 1900’s uitgemoor is spreek boekdele van die geskiedenis.

Die aand maak Mornay ’n potjie en hy jaag Buks se suikervlakke bietjie op. Maar dis lekker!

Die dag was ietwat van ’n teleurstelling, maar ook ons eie skuld. Eerstens is ons skuldig aangesien nie een van ons twee bewus was dat dit Sondag was nie. Namibië en Durbanville is nie dieselfde plek op ’n Sondag nie.