
Op die kop 06h00! Die journey begin. Aanvanklik het ons beplan om in Clanwilliam oor te slaap, maar na ons gesien het ons gaan die volgende dag met nat tente sit en waarskynlik in die reën kamp opslaan het ons besluit om die lang pad na Vioolsdrif aan te pak.
Op pad was dit koud en die temperatuur het tussen 8 en 12 grade gewissel. Vanaand gaan ons koud slaap!
Teen 15h00 was ons in Vioolsdrif, nie seker waar ons gaan slaap nie. Oranjerivier River Lodge was ’n opsie. Ons het by ’n paar plekke verbygery en begin verken. Op aanbeveling het ons by Kwelanga River Lodge ingedraai. Wat ’n aangename verassing. Cathy het ons ontvang…what a sales lady!
Kwelanga, sovêr ek kan vasstel, beteken sonlig of sonskyn in Zulu. Ons was beïndruk deur die fasiliteite en het nie verder gesoek nie. 30 minute later het die kamp gestaan. Twee nagte, net hier, het ons besluit.

Buks kon nie langer wag om ’n vislyn in die water te kry nie….sonder vreugde so twee ure later!
Ons was nogal moeg, en na ons die dag se vooraf bereide kospakkie warm gemaak het, was ’n warm stort en die bed ons voorland…net jammer Mornay se stretcher pas nie lekker in die tent nie, maar ’n plan het ons gesien!

